(asb wees gewaarsku teen spelfoute, voetfoute en enige ander foute voor jy besluit om die volgende "text" te lees, maar soos altyd:
Welkom by my winkel, my huis, my hawe, my kreatiwiteit, my veilige plek op aarde, waar ek sit en skryf wanneer niemand kyk nie.
...................................................................................................................................................................
Dit was die begin van my eerste dag terug by skool (ja myne, want ek voel alles wat hulle voel, of jy dit nou so wil hê of nie. Jy noem dit mos mawees) kwartaal 3 2024 hier gaan ons.
Tussen jou en my (terwyl ek 22:38 in die aand 'n slukkie van my lieflike "druiwe sappie" neem en besef ek moes mooi dink of dit nou kwartaal 2 of 3 is...)
Ek weet nie, want meeste dae weet ek self nie wat om my aangaan en hoe laat daai kind se 30ste krieket/ rugby/ tennis / hokkie oefening ophou nie.
Terwyl ek daar sit met 'n "glimlag" (vuil hare onder 'n buff weggesteek wat ek 10 jaar terug gebruik het toe ek nog fiets gery het). Ek dink terug aan daardie dae en voel noggal skuldig. Ek moet seker een of ander tyd iets aan hierdie situasie begin doen. Dit neem skaars twee minute vir my om te besef: nah...dis OK, die twins baklei en my meisiekind is vandag nie so lekker nie, want sy is op die rant van puberteid, asook die volgende "mamma kan ons asb na 'n nailbar gaan, want ek wil daai lang geplakte naels hê..." ja, sy is 10.
Mawees nê. Wow. En niemand waarsku jou ooit goed genoeg nie. Nooit.
My 30's - GROOTSTE skok van my lewe en baie keer noudat ek die nommer 30 baadjie verruil het vir 'n nommer 40, wonder ek: Hoekom vertel mense nie tenminste vir jou wat de hel vir jou wag in jou 30's nie ... ?
My arme oumagrooitjie draai seker in haar graf om en gluur my aan met n taai kyk wat sê: "F*kit Mieke - wat jy in jou 30's moes doen het ek reeds in my tiener jare gedoen... nee man my kind, kom reg."
Jammer ouma - Regtig. Ek voel nou jou pyn vir die eerste keer. Wens net ons kon om 'n tafel sit vandag en hierdie bespreek. Sorry. Asb bo alles, moenie omdraai nie. Anders gaan al die "graf" en "spook" stories dalk waar word en ons is nog nie reg daarvoor nie - veral nie met al hierdie klomp kinders wat ons nou moet groot kry nie.
Maar, hier is dit nou... 'n kort verhaal oor my liefste seuntjie en een van 'n tweeling (trotse mamma met 'n druiwe sappie in die hand)
"Anna, my ouma (my kinders se ouma grooitjie, asook ons omgee engel uit die Hemel), vir jou wil ek vandag 'n storie vertel":
***Trrrrieng, goue lint, my storie begin...
.................................................................................................................................................................
My pa bring vir my vanoggend in die gietende Kaapse reën DIE lekkerste sop en ander "treats", wat my liefste moeder bymekaar gesit het.
Ek moet seker maak oupa (dis nou my pa, en my kinders se oupa - so kom ons noem hom oupa in hierdie storie en onthou: Anna is hulle oumagrootjie) - Liewe goeiste, dis nou soos een van daaaaai stories van "My niggie se pa se sussie se broer se tannie se... "ek het jou by niggie verloor pel" ... ja.
Maar hier gaan ons.
My pa bring vir my vanoggend in die gietende Kaapse reën DIE lekkerste sop en ander "treats".
Hy hardloop teen my trappe op nadat hy mooi verduidelik het: "sussie moet asb nie kom help nie, ek is reeds nat gereën".
Toe oupa eers binne is en al die lekker "goeters" op die tafel sit, kyk hy my so aan en sê: "Vandag gaan haal ons daai kinders saam by die skool, sodat julle almal nie teveel nat reën nie."
Daar klim ons in oupa se kar en ek raak vir 'n klein oomblik weer kind in die teenwoordigheid van my pa se liefde en omgee. Dit was lieflik. Mag dit nooit ophou nie Jesus.
Oupa stop so na as wat hy kan aan die naaste moontlike ingang vir my om die kinders op te pik terwyl die liewe Here in die Hemel besluit het dat die Kaap regtig BAIE water nodig het.
Vir 'n rukkie word die wolke se krane toegedraai en ek kry die kinders heel en droog terug in oupa se kar.
Hulle is baie bly om oupa te sien en vra dadelik wat ruik soos "Fizzers"...
Ek sê nee, jy verbeel jou. Oupa het nie "sweets" vandag saam gebring nie en julle het hopeloos teveel lekkers die vakansie geëet,
Dis toe nou net mooi hier waar die tweeling my aankyk en amper gelyk vra: "Mamma, wat beteken verbeel ?"
Ek en oupa loer vir mekaar en ons albei probeer toe nou vir die twee verduidelik wat dit beteken om jouself te VERBEEL. Oupa het sy weergawe en mamma het haar weergawe.
Oupa laai ons almal veilig af en ons is reg vir huiswerk, kaggel maak in die koue en al daai dinge.
Mamma moet nog bietjie werk na dit alles en vra toe my een seuntjie om asb vir my 'n glasie Oros in te gooi. Hy stap kombuis toe en ek hoor hoe die yskas oopgaan en dan vra hy:
"Mamma, van wanneer af drink jy Oros?"
Terwyl ek sit en tik, kyk ek op en sê: "Ag man, seker van vandag af. "
So 'n oomblik van stilte gaan verby en ek hoor hoe hy daai Oros ingooi en sê: " O, dan het ek myself seker maar verbeel".
My woorde is op...
My en oupa se les vir die dag was suksesvol.
Daar is dit nou.
Wanneer jy jouself verbeel jou ma drink wyn, maar vandag het sy Oros gekies, want wie hou nie van Oros nie...?
Lekker slaap julle.
x
Comments